Blaser kan Sharks 'byt'
2011-06-23 07:05
In-diepte Verslae
Die Highlanders moes 'n laat terugvegpoging deur die Blues afweer om die Super-rugbykragmeting op Eden Park in Auckland te wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Christo Buchner en J.J. Harmse
Durban – Die Sharks sal Saterdagoggend in Nelson in die kwarteindronde van die Super Rugbyreeks straks veel meer te bowe moet kom as hul uitmergelende reisprogram en die taai span van die Crusaders.
Die Suid-Afrikaners kan hulle ook staal vir die Nieu-Seelandse skeidsregter in dié stryd, Bryce Lawrence.
Van die agt wedstryde van die Sharks wat Lawrence sedert 2006 hanteer het, het hulle net drie gewen.
Die enigste keer dat hulle hierdie seisoen het hom te doen gekry het, was in Durban teen die Bulls, toe hulle ook aan die verloorkant was.
Dié 41-jarige oud-skoolhoof sal ook die blaser in die eindstryd van die Superreeks op 9 Julie wees.
Sanzar se spelbestuurder, Lyndon Gray, het Woensdag bekend gemaak dat Lawrence, volgens dié organisasie se keurders, deurlopend die beste geblaas het in die afgelope ses maande en daarom aangestel is om die eindstryd te hanteer.
Craig Joubert, wat verlede seisoen die eindstryd tussen die Bulls en die Stormers hanteer het, en die wêreld se mees ervare toetsblaser, Jonathan Kaplan, sal die twee halfeindstryde hanteer.
Joubert is in Kaapstad in aksie waar die Stormers op hul teenstanders wag, terwyl Kaplan in Brisbane blaas waar die Reds vir hulself ’n tuis-halfeindstryd losgespeel het.
Lawrence en nóg ’n Kiwi, Chris Pollock, is die naweek in aksie in die eerste fase van die uitkloprondes.
Die Stormers en Joubert se paaie het laas in verlede jaar se Super14-eindstryd in Soweto gekruis. Die Kapenaars, wat dié kragmeting met die Bulls verloor het, was agterna veral omgekrap oor Joubert se toepassing van die reëls by die afbreekpunte.
)?Toe die All Black-afrigter, Graham Henry, vandeesweek uitgevaar het oor die gebrekkige fiksheid van skeidsregters, kon hy baie maklik sy landgenoot Lawrence in gedagte gehad het.
Na wat verneem word, het Lawrence glo die fiksheidstoetse wat die Super Rugby-skeidsregters afgelê het, gedop.
Henry het juis gesê die basiese foute wat die skeidsregters begaan, is belaglik.
“Dit gebeur omdat hulle uitgeput raak en later in die wedstryde ‘die muur tref’ en nie meer nugter kan dink nie.
“Hulle stoom raak heeltemal op en hulle verloor dit,” het Henry vandeesweek gesê.
Volgens hom is dit verstommend hoeveel drieë van vorentoe-aangeë gedruk word, net omdat die skeisdregter en sy assistente nie by die spel kan bybly nie.
Hy sê die verdedigende spanne word ook toegelaat om ontwrigtend te wees by die afbreekpunte, want die skeidsregter is té ver van die spel af om te kan sien wat aangaan.
Uit Sharks-geledere is daar vandeesweek ook kommer uitgespreek oor die rol wat die blaser kan speel in die stryd teen die Crusaders.
In ’n wedstryd wat uiteraard teen ’n kwaai tempo gespeel gaan word, kan spanne nie ’n skeidsregter bekostig oor wie se fiksheid daar vrae is nie.
Die Crusaders is juis meesters daarvan om die reëls tot hul voordeel te “gebruik” en om byvoorbeeld op die onkant-grens te speel.
Lawrence moet toesien dat hy deurentyd sy vinger op die pols het en by die aksie bly sodat hy nie oortredings wat plaasvind, miskyk nie.
Henry het sover gegaan as om te sê dat die tyd dalk aangebreek het dat daar van plaasvervanger-skeidsregters gebruik gemaak moet word wanneer dit duidelik word die blaser wat in die wedstryd begin het, se stoom raak op in die tweede helfte.
Lawrence het die eerste keer in 2006 ’n Sharks-wedstryd hanteer, toe hulle in Sydney teen die Waratahs verloor het.
Daarna het die Sharks in 2007 teen die Brumbies verloor toe hy die fluitjie geblaas het.
In 2008 het hulle weer teen die Brumbies en die Waratahs verloor.
In 2009 het die Sharks die drie wedstryde waarin Lawrence die 31ste persoon op die veld was, gewen.
Dit was teen die Chiefs, die Western Force en die Brumbies.
Die Sharks het hom in 2010 vrygespring, maar in hierdie seisoen weer as verloorders van die veld gestap toe hy die fluitjie in die mond gehad het teen die span van die Bulls.
– Sport24
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg