‘Beste’ voorry vir Sharks
2011-05-17 09:18
In-diepte Verslae
Die Highlanders moes 'n laat terugvegpoging deur die Blues afweer om die Super-rugbykragmeting op Eden Park in Auckland te wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Durban - Die Sharks gaan Saterdagaand se Super Rugbywedstryd teen die Bulls in Durban straks met sy beste voorry begin.
Dit beteken dat daar nie plek vir John Smit in die beginspan sal wees nie.
Dié Bok-kaptein is boonop in ’n wedloop teen tyd gewikkel om fiks te wees. Hy het gistermiddag begin hardloop, maar het nog nie aan die kontakoefeninge deelgeneem nie.
Volgens die spandokter, Ewoudt van der Linde, sal Smit Donderdag ’n fiksheidstoets aflê wat sal bepaal of hy ’n lid van die 22-tal gaan wees wat die Bulls aandurf.
“Sy kans om reg te wees, is in hierdie stadium 50/50.
“Ons sal maar moet wag en sien hoe lyk sake Donderdag,” het Van der Linde gistermiddag gesê.
Al word Smit fiks verklaar nadat hy die afgelope ruk met ’n kuitbesering gesukkel het, is dit feitlik ’n uitgemaakte saak dat hy op die plaasvervangersbank sal begin.
Dit is gewis nie nodig om enige kans met hom te waag nie.
Soos sake nou staan, word die Du Plessis-broers, Bismarck en Jannie, en Beast Mtawarira in baie kringe as die Sharks se beste voorry beskou.
Dit sal teen die Bulls nodig wees om hulle vanuit die staanspoor vas te vat.
Dit kan ook ’n beter keuse wees om die meer beweeglike haker Craig Burden op die plaasvervangersbank in te sluit en om die stut Eugene van Staden, wat met sy beweeglikheid en goeie hanteerwerk die laaste ruk indruk gemaak het, ook in te span.
Smit kan dan nog ’n week se ruskans gegun word.
Jacques Botes, wat die laaste paar wedstryde weens ’n beseerde enkel misgeloop het, het gister sonder enige ongerief saam met die span geoefen.
Hy sal oorweeg kan word langs die kant van die skrum in die plek van die geskorste Keegan Daniel.
Botes het nog nie dié seisoen die spelpeil bereik waartoe hy in staat is nie en dit sal ’n stewige toets vir hom wees om ysters soos Deon Stegmann en Dewald Potgieter in toom te hou.
Die Sharks bevind hulle in ’n vreemde situasie, want hulle het nog nooit in ’n Super Rugby-reeks gespeel waarin hulle twee loslootjies gehad het nie.
Dit sal interessant wees om te sien hoe die mees onlangse ruskans – skaars drie weke ná hul vorige een – hul spel beïnvloed.
Daar wag vyf weke se intense rugby op die Durbaniete in ’n poging om die uitspeelstryde te haal en die afrigter, John Plumtree, sal dit by sy span indril dat dit Saterdag ’n geval van alles of niks gaan wees .