Bekker en Duane dalk langs kantlyn
2012-01-12 06:51
In-diepte Verslae
Die Highlanders moes 'n laat terugvegpoging deur die Blues afweer om die Super-rugbykragmeting op Eden Park in Auckland te wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Hermanus – Die beste slot en taaiste agtsteman in Suid-Afrika sal straks albei langs die kantlyn wees wanneer die Stormers hul Superrugby-veldtog op 25 Februarie, op Nuweland teen die Hurricanes, afskop.
Allister Coetzee, afrigter van die Stormers, het gesê hy is “75% seker” dat Andries Bekker en Duane Vermeulen teen daardie tyd “medies fiks” sal wees.
Hulle herstel onderskeidelik van ’n enkel- en kniebesering.
Daar is ’n groot verskil tussen medies fiks en wedstrydfiks en dit kan Coetzee noop om aanvanklik alternatiewe keuses te oorweeg.
Eben Etzebeth, De Kock Steenkamp en Hilton Lobberts verskaf die diepte op slot, terwyl Siya Kolisi gerieflik by Schalk Burger en Nick Koster in die lostrio kan inskakel.
Bekker en Vermeulen, asook Coetzee se eerste keuse as slot op nommer vier, Rynhardt Elstadt, het Woensdag by die Laerskool Hermanus nie aan die veldoefening deelgeneem nie.
Coetzee is 100% seker dat Elstadt uit die staanspoor vir die Stormers sal speel, maar oor Bekker en Vermeulen kan hy vir eers net duim vashou.
Die Stormers-breier het oop kaarte gespeel oor hoe sy losvoorspeler-kombinasie sal lyk as almal fiks is.
“Nick Koster, Duane en Schalk is die lostrio wat ons wil inspan.”
Dit sal weer ’n debat afgee oor ’n spesialis-baljagter nadat Francois Louw na Bath in Engeland vertrek het.
Coetzee meen Rohan Kitshoff of selfs die haker Deon Fourie kan uithelp.
Hy noem ook die name van jong manne soos Reuben Johannes en Nic Fenton-Wells, maar hulle is waarskynlik nog te jonk.
Die Stormers was tot dusver in hul voorbereiding op kondisionering ingestel, maar die fokus verskuif nou na tegniese aspekte op die veld.
“Ek is tevrede met die kondisionering, maar ons moet nou na ’n hoër rat op tegniese vlak oorskakel,” het Coetzee gesê.
Hy sal sy groep ná die eerste oefenstryd – teen die Boland op 21 Januarie in Wellington – van 47 tot 36 verklein.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg