Bakkies terug vir Bulls, maar...
2010-04-20 07:48
In-diepte Verslae
Die Highlanders moes 'n laat terugvegpoging deur die Blues afweer om die Super-rugbykragmeting op Eden Park in Auckland te wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
J.J Harmse
Pretoria - Daar is min dinge wat enige rugbyspan ná ’n lang Super14-toer deur Australasië só opkikker soos ’n aand by die huis en om dan die volgende dag ’n fikse Bakkies Botha saam met jou te sien oefen.
Dit was wat Maandag hier op Loftus gebeur het toe dié breker-slot sonder enige ongerief saam met sy spanmaats gesweet het, skaars ’n dag nadat hulle uit Brisbane teruggekeer het.
Botha sal egter nie Saterdag teen die Lions speel nie, maar wel teen die Sharks ’n week later.
“Bakkies is fiks, maar hy sal eers hierdie week ’n bietjie opskerp met skrums en lynstane voordat hy by die span inval,” het die spandokter, Org Strauss, die mediese verklaring ná Botha se hakskeensening-operasie gegee.
Frans Ludeke, afrigter van die Bulls, het beaam dat hy nog nie dadelik gaan inval nie. “Dit is nogtans ’n groot ding vir die span om te weet Bakkies is reg om die laaste ses weke saam in die loopgraaf te veg. Jy kan sommer sien dié nuus en die feit dat die ouens weer by die huis is, het hulle goed gedoen. Vandag se sessie was skerp.”
Ludeke het die Bulls behoorlik laat sweet, maar die span sal nie vandag oefen nie. Die spelers het môre weer ’n kwaai sessie en rus weer Donderdag.
“Ons probeer die ouens geestelik vars hou. Die twee afdae sal baie doen om hulle reg te kry. Daar is in elk geval nie veel wat ons op die veld kan regstel voor Saterdag nie. Ek glo die rus sal meer goed doen as ’n ekstra oefensessie,” het die breier gesê.
Om dié rede is Ludeke nie te gretig om te veel te roteer met die oog op Saterdag nie.
Daar kan geargumenteer word dat Morné Steyn dalk ’n ruskans verdien, terwyl Werner Kruger moontlik as plaasvervanger gekies moet word.
Jacques-Louis Potgieter het nog nie vanjaar in ’n wedstryd begin nie en brand sekerlik vir ’n speelkans.
Kruger het begin strafskoppe afstaan in die Reds-wedstryd en dit kan Ludeke loon om Bees Roux ’n kans in die beginspan te gee. Verlede seisoen is Kruger en Rayno Gerber met groot sukses afgewissel.
’n Ander skuif wat wel sal plaasvind, is die terugkeer van Jaco Pretorius. Hy sal buitesenter in die plek van Stephan Dippenaar speel.
Die afrigter maak Woensdag sy span bekend.
Jaco van der Westhuyzen (kuit) is steeds beseer en sal eers oor twee weke reg wees om weer te speel.
Akona Ndungane sal ook teen die Sharks kan speel.
- Sport24