Aplon is Super-man
2010-05-18 09:48
In-diepte Verslae
Die Highlanders moes 'n laat terugvegpoging deur die Blues afweer om die Super-rugbykragmeting op Eden Park in Auckland te wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Stephen Nell
Kaapstad - Gio Aplon is op 74 kg klein van statuur, maar die Stormers se afrigter, Allister Coetzee, is bly hy kan op dié regtervleuel se groot hart staatmaak in Saterdag se halfeindstryd teen die Waratahs in die Super14-rugbyreeks.
Die Springbok-slot Bakkies Botha het gister in ’n tugverhoor verskyn vir die roekelose en gevaarlike wyse waarop hy op Nuweland in ’n losskrum ingedons het, waarna Aplon mediese behandeling moes ontvang.
Coetzee het sy bewondering uitgespreek dat sy speler hoegenaamd nog kon opstaan om verder te speel.
“Ek het baie respek vir Gio dat hy op die veld gebly het ná so ’n harde slag,” het Coetzee gesê.
“Hy het werklik baie karakter gewys en dis wat wonderlik is van die spelers in hierdie span. Hulle gaan oorlog toe en baklei – niemand kruip weg nie.”
Aplon het nie net opgestaan nie, maar ook een van die Stormers se mooiste drieë van die seisoen vir Jaque Fourie aangevoor.
Hy het die bal wat hy oor die Bulls se verdediging geskop het, gevang, ’n verdediger getrek en die Bok-senter in besit gestel.
Ofskoon ’n taai, fisieke stryd teen die Waratahs verwag word, kan Aplon se vermoë as spelbreker deurslaggewend wees.
Die Stormers weet dat ’n reuse-hart in daardie klein lyfie klop.
“Al wat ek kan sê, is dat ek baie tevrede is met Gio se bydrae. Hy het aan die begin van die seisoen werklik goed op vleuel vertoon en daarna vinnig op heelagter aangepas,” sê Coetzee.
“Gio is puik op die aanval en sy kontakvaardighede is besonder goed. Hy steek ook nie lyf weg op die verdediging nie.
“Hy is ’n natuurlike speler met ongelooflike vaart en dis iets wat jy nie kan afrig nie. Hy neem ook goeie besluite.”
Aplon se ervaring op heelagter kan Saterdag ook belangrik wees, want die Waratahs sal beslis probeer om met skoppe gate in die Stormers se waterdigte verdediging te vind.
Die Waratahs skop gemiddeld 27 keer per wedstryd teen die Stormers se 28. Die Bulls en Sharks is die spanne wat met 29 skoppe per wedstryd die stewel die meeste inlê.
“Hulle skopwerk beïndruk my baie,” het Coetzee oor die Waratahs gesê.
“Berrick Barnes is ’n akkurate skopper.
“Hulle het ook vir Kurtley Beale en Drew Mitchell met sy linkervoet. Dit bied hulle oral op die veld keuses.
“As jy nie deur of om ’n span kan kom nie, dan is die roete maar bo-oor. Die Cheetahs en die Brumbies het dit albei teen ons probeer en dis iets waarvan ons bewus is.
“Gelukkig het ons ’n ervare vleuel in Bryan Habana wat daardie situasies besonder goed lees. Gio het op die ander vleuel ervaring van heelagter speel en dan is daar ook Joe Pietersen.
“Al drie van hulle het die vaart om te kan omdraai en is goed met dekverdediding.”
Die Waratahs is ook ’n baie fisieke span, maar hiervoor skrik die Stormers nie.
“Gelukkig is dit die aspek van die spel wat ons spelers die meeste geniet, danksy ons rekord op die verdediging,” sê Coetzee.
Met heelwat taktiese skoppe wat verwag word, is dit onwaarskynlik dat die Stormers vandeesweek die groot vleuel Sireli Naqelevuki sal nader trek.
Coetzee het laat blyk dat hy sy span so ver as moontlik onveranderd wil laat.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24