Andries Strauss wil in wit seëvier
2011-02-17 07:05
In-diepte Verslae
Die Highlanders moes 'n laat terugvegpoging deur die Blues afweer om die Super-rugbykragmeting op Eden Park in Auckland te wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Bloemfontein – Andries Strauss was al dikwels in ’n swart trui aan die verloorkant wanneer die Cheetahs die Haaitenk besoek het en hoop om Saterdag in ’n wit trui met ’n glimlag van die veld af te stap.
Dié Springbok-senter draf in Durban in die Super Rugbyreeks in sy eerste wedstryd vir die Cheetahs teen die Sharks, sy voormalige span, uit. Hy sal nie net met die intrapslag sy voormalige spanmaats op sy ou tuisveld pak nie, maar boonop teen Meyer Bosman, lank ’n ster van die Cheetahs, te staan kom.
Die Cheetahs het die afgelope paar seisoene welslae in die Hawestad behaal en sal graag hul vertoningslys daar gestand wil doen. “Die Cheetahs het in die verlede welslae in Durban behaal en hopelik kan ons dit weer doen. Ek moet bieg dat ek soos die Engelsman sê al baie aan die receiving end was wanneer die Cheetahs daar gespeel het.
“Dit sal eienaardig voel om in Durban met ’n wit trui, en nie ’n swarte nie, op die veld te draf. Maar ek kan nie die naweek net aan myself dink nie. Dit draai om die span en ons wil die wedstryd wen,” sê Strauss.
Dié Bok meen hy en Bosman ken mekaar se truuks. “Meyer is ’n goeie speler, veral wat sy balverspreiding betref. Hy lees die spel baie goed. Ons het al baie teen mekaar gespeel en ken dus mekaar se spel redelik goed. Dit sal interessant wees om te sien wat dié naweek sal gebeur. Ek sien daarna uit om teen hom te speel.”
Volgens Hawies Fourie, agterlyn-afrigter van die Cheetahs, sal sy span Bosman moet dophou. “Meyer sal by die Sharks se spel inpas. Hy is ’n goeie spelskepper. Hy behoort tot sy reg te kom en ’n goeie reeks te hê. Ons sal veral op die verdediging goed georganiseer moet wees en druk op hom moet plaas. Hy ken ons spel en ons sal hier en daar ’n beweging verander.
“Die belangrikste is om Meyer min tyd te gun vir dit waarvan hy hou. Hy hou daarvan om die bal in kontaksituasie uit te gee.
“Dit sal ’n interessante tweestryd tussen hom en Andries wees. Hulle ken mekaar se spel en sal graag ’n punt wil bewys.”
Die Cheetahs sal sonder hul gereelde kaptein, Juan Smith, moet klaarkom.
Die haker Adriaan Strauss sal die kaptein wees.
– Sport24
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg