Alles nie pluis nie sê Watson
2011-06-07 10:26
In-diepte Verslae
Die Highlanders moes 'n laat terugvegpoging deur die Blues afweer om die Super-rugbykragmeting op Eden Park in Auckland te wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Jóhann Thormählen en Vicus Bürger
Bloemfontein - Alles was beslis nie pluis met die skeidsregterbeslissings in die Super Rugby-wedstryd tussen die Cheetahs en die Sharks nie, maar die fluitjieblaser Marius Jonker is nie pateties nie.
Só het André Watson, Suid-Afrika se skeidsregterbaas, Maandag gesê nadat die Cheetah-afrigtingspan sy misnoeë oor verskeie voorvalle in Saterdag se kragmeting in die Vrystaat-stadion uitgespreek het.
Naka Drotské, die Cheetahs se afrigter, het intussen ook ’n skrywe aan Sanzar, die beheerliggaam van die Super Reeks, se merietepaneel en Watson oor sy klagtes gestuur.
“Ek stem nie saam met al die beslissings nie. Sommige beslissings moet hersien of anders hanteer geword het,” het Watson gesê.
Volgens hom sal besonderhede daaroor later bekend gemaak word sodra die verdere ondersoek klaar is.
Watson meen verkeerde beslissings het die Cheetahs, sowel as die Sharks, benadeel. Hy het ook vir Jonker in die bres getree.
“Alles was beslis nie pluis nie, maar mense wat sê Jonker is swak, pateties en hoort nie daar nie, is verkeerd.”
Volgens Drotské voel hy selfs sterker oor sy vroeëre uitsprake oor swak beslissings nadat hy videomateriaal oor die wedstryd nagegaan het.
“Daar was vyf insidente waar die Sharks geel kaarte moes kry en sowat 20 losskrums waarmee ek nie tevrede is nie.”
Die afrigter meen hoewel die Sharks in die gevaarsone, naby hul eie doellyn, dikwels geel kaarte moes gekry het, is hulle nie eens met strafskoppe gestraf nie.
“As ons ons kanse gebruik het, het ons die wedstryd gewen.
“Maar as jy my vra of ons die wedstryd oor swak beslissings verloor het, kan jy jou eie somme maak. Ons het met slegs vyf punte (18-23) verloor en daar was minstens vier insidente, waar sowat 20 punte op die spel was, waar ons kon druk.”
Boonop meen Drotské dat hy nie net oor die beslissings kla nie, maar dat hy mediamanne se vrae daaroor reguit beantwoord.
“Daar is ’n verskil tussen om ’n klakous te wees en die media se vrae reguit te beantwoord. As ek oor die vertolking van die skeidsregter uitgevra word, gaan ek mos sê wat ek dink en nie lieg nie.”
Buiten bogenoemde vyf insidente meen Drotské die Sharks het nie altyd op ’n wettige manier balle op die grond by die Cheetahs gesteel nie.
“Daar is omtrent 20 videogrepe waar onder meer Bismarck du Plessis nie die aanvaller tyd gegee het om die bal te plaas nie.
“Almal sê die Sharks het ons by die afbreekpunte uitoorlê, maar dis nie so nie. Marius Jonker het hulle net nie gestraf nie.
“Ek het bewyse op rekenaar daarvan en sal dit vir enigiemand wys om my punt te staaf.”
Drotské kla hieroor
Volgens Naka Drotské, die Cheetahs se afrigter, moes die Sharks by die volgende vyf voorvalle geel kaarte ontvang het:
* Die Sharks-vleuel JP Pietersen het ’n drie vanaf omgekeerde besit gedruk. Voordat die bal omgekeer was, was die Cheetahs op die aanval en het die Sharks-stut Tendai (Beast) Mtawarira gekeer dat die Cheetahs die bal terugwen. Mtawarira het vanaf die verkeerde kant by die losskrum aangesluit en die Cheetahs kon hom nie wegvat nie.
* Die Sharks-senter Stefan Terblanche het naby sy eie doellyn die bal opsetlik langs ’n losskrum afgeklap toe die Cheetahs op die aanval was. Die Cheetahs het vier aanvallers teen twee verdedigers gehad en kon maklik druk.
* Die Sharks-stut John Smit het die Cheetah-stut WP Nel vanuit ’n onkant posisie geduik. Nel het twee spanmaats langs hom gehad en daar was geen verdedigers in sig nie. As Smit aan kant was, kon Nel hom trek en die spelers weggesit het.
* Toe die Cheetah-skrumskakel Sarel Pretorius byna gaan druk het, het Pietersen vir Pretorius geskaapvang. Pietersen was reeds op die grond en mag nie aan spel deelneem nie. Nadat Pretorius grond toe is, het die Sharks-heelagter Louis Ludik die bal vanuit ’n onkant posisie gesmoor en verhinder dat die Cheetahs die bal terugwen met spelers aan die buitekant.
* Die Sharks-flank Willem Alberts het drie keer die Cheetah-flank Ashley Johnson laat geduik. Die vierde keer het Alberts Johnson sonder arms geloop toe Johnson nie eens die bal vanaf sy losskakel Sias Ebersohn ontvang het nie.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24