‘Al die druk op Bulls’
2010-04-29 07:36
In-diepte Verslae
Die Highlanders moes 'n laat terugvegpoging deur die Blues afweer om die Super-rugbykragmeting op Eden Park in Auckland te wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Christo Buchner
Johannesburg - John Plumtree smokkel steeds met die Bulls se koppe.
Dié Kiwi-afrigter van die Sharks, wat die Bulls-ondersteuners aan die brom gekry het met sy stelling dat hy glo Ruan Pienaar is waarskynlik die beste skrumskakel in die land, het die sielkundige oorlog Woensdag verder gevoer deur te sê al die druk in Saterdag se Super14-stryd op Loftus Versfeld is op die tuisspan.
“As die voorloper op die puntelys móét hulle wen om ’n tuis-halfeindstryd te verseker.
“Dit plaas baie druk op hulle,” het Plumtree gesê.
Wat sy eie span se halfeind-droom betref, erken hy dit lyk buite bereik.
“Daar sal baie dinge moet gebeur vir ons om te kwalifiseer. Ons is nie meer gepla daaroor nie en sien nou net uit na die tweestryd teen die ou vyand (die Bulls).
“As ons nie vroeg in die reeks so gesukkel het nie, kon dinge nou anders vir ons gewees het, maar dit is nou maar hoe dit is en ons aanvaar dit so.
“Al wat ons nou wil doen, is om die wenmomentum van die laaste vyf wedstryde te behou,” het Plumtree gesê.
Vanaf daardie oomblik in 1990 toe Tony Watson Theo van Rensburg laat stilstaan het en die Piesangboere die Blou Bulle in hul heiligdom in die Curriebeker-eindstryd geskok het, is kragmetings tussen dié spanne intense affêres.
“Die uitdaging om op Loftus te speel, haal altyd die beste uit my spelers,” het Plumtree gesê. “Ons kry ook altyd uitstekende ondersteuning daar, wat fantasties is.
“Dit gaan weer ’n geval wees van hul sterk hardlopers teen ons s’n en hul stewige verdedigers teen ons s’n.
“Dit gaan baie fisiek wees – en dit sal interessant wees om te sien wie bly staande teen die einde.
“Die Bulls en die Sharks is nou maar eenmaal spanne wat die beste in mekaar na vore bring,” het Plumtree gesê.
Hy het gesê wat hom nogal dronkslaan, is dat die Bulls al in vier wedstryde dié seisoen 50 punte of meer aangeteken het en die meeste drieë gedruk het, maar dat hul speelstyl steeds gekritiseer word.
“Hulle speel met baie dissipline.
“Dit is deel van hul kultuur.
“Dissipline is vir hulle ’n sleutelwoord en word by hulle ingedril.
“Jy kan dit toeskryf aan Victor Matfield en Fourie du Preez wat daardie span lei.”
Plumtree glo ook Suid-Afrikaanse rugby is kerngesond.
“Die diepte in SA rugby het beslis toegeneem.
“Daar is kwaai mededinging om plekke in die Springbok-span, wat wonderlik is,” het hy gesê.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24