Zim-sokkerhoof afgedank
2010-10-27 14:11
Harare - Die uitvoerende hoof van Zimbabwe se sokkervereniging, Henrietta Rushwaya, is Dinsdag afgedank na bewerings van wedstrydknoeiery en diefstal aan die lig gekom het.
Zifa se regsverteenwoordiger, Raph Maganga, het gesê Rushwaya word daarvan beskuldig dat sy die land se nasionale sokkerspan sonder toestemming vir wedstryde na Asië gestuur het.
Sy het ook by Zimbabwe se sportkommissie op 'n lening van $103 000 (sowat R700 000) aangedring. Dié geld het spoorloos verdwyn.
Rushwaya, wat in Julie geskors is omdat sy van wedstrydknoeiery verdink word, het alle navrae na haar regsverteenwoordiger verwys wat nie wou kommentaar lewer nie.
Sy word ook daarvan beskuldig dat sy 'n plaaslike sokkerspan, die Monomotapa, na Maleisië gestuur het om hulle as Zimbabwe se nasionale sokkerspan voor te doen.
Die toer na Asië is vermoedelik deur 'n sindikaat wat by wedstrydknoeiery betrokke is gereël, het die Forum vir ondersoekende joernalistiek in Afrika, gesê.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24