Zidane, Italianer skud hand oor kopstamp
2010-12-10 15:42
Rome - Die Italiaanse sokkerspeler Marco Materazzi het gerugte vroeër dat hy en die Fransman Zinedine Zidane verlede maand in Milaan by 'n hotel ontmoet en blad geskud het, erken.
Dié twee sokkerspelers is reeds sedert die 2006 Wêreldbeker-eindstryd tussen Frankryk en Italië kwaad vir mekaar.
Zidane is in die eindstryd met 'n rooi kaart van die veld gestuur nadat hy Materazzi teen die bors met sy kop gestamp het. Italië het Frankryk in bykomende tyd met 5-3 geklop.
Die Franse kaptein het later beweer dat Materazzi sy suster gevloek het.
"Ek was besig om die hotel te verlaat toe iemand my voorgekeer en gesê het daar is 'n probleem," het Materazzi aan Mediaset gesê.
"Mense het gesê Zidane se motor staan reg langs myne in die parkeerarea. Toe ek uitstap het Zidane voor my gestaan en ek het die kans aangegryp om 'n paar dinge vir hom te sê. Hy het sy hand na my uitgehou en ek het dit geskud en dit nie gelos voordat hy my reguit in die oë gekyk het nie. Dit is wat ek wou hê en dit is wat gebeur het," het die Italianer verduidelik.
Bly op hoogte van die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24