WB 2022 te warm vir Asiërs
2010-12-09 12:55
Kuala Lumpur - Asië se sokkervereniging (AFC) het Donderdag 'n pleidooi aan Fifa gerig om die 2022 Wêreldbeker-sokkertoernooi in Katar eerder na die Januarie of Februarie wintermaande te skuif.
Sodoende sal die versengende hitte van dié woestynland tydens die wêreld se grootste sokkertoernooi vermy kan word.
Die AFC se uitvoerende hoof, Peter Velappan, het gesê om stadions en oefenvelde met lugverkoelers af te koel "nie die oplossing is nie". En het gewaarsku dat Europese spanne die toernooi dalk weens die hitte mag boikot.
Die kwik kan tydens die somermaande in Katar tot 40°C styg.
Franz Beckenbauer, 'n komiteelid van Fifa, het vroeër die maand voorgestel dat veranderinge gemaak word aan die skedules van Europese liga-wedstryde, sodat die Wêreldbeker tydens die winter in Katar aangebied kan word.
Bly op hoogte van die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24