WB-verkope skiet die hoogtes in
2009-12-07 14:48
Johannesburg – Die Wêreldbeker-sokkertoernooi trekking wat in Kaapstad plaasgevind het, het die vraag na kaartjies in ‘n stormloop laat ontaard en Fifa het bykans ‘n kwartmiljoen versoeke vir kaartjies in die laaste twee dae ontvang.
Die derde fase van kaartjieverkope het Saterdag begin, ‘n dag nadat ondersteuners in die 32 kwalifiserende lande uitgevind het teen watse spanne hulle land te staan gaan kom in die eerste ronde van die toernooi.
Fifa het in die eerste 48 uur 219 162 versoeke vir kaartjies op hul webwerf ontvang, het hulle gesê.
“Ons is bly oor die belangstelling wat sover getoon word. Dit dui op die impak wat die finale trekking op sokker-liefhebbers en die Fifa Wêreldbeker-sokkertoernooi gehad het,” het Horst R. Schmidt, voorsitter van die kaartjie-subkomitee, in ‘n verklaring gesê.
Die verkope sal tot 22 Januarie duur.
Waar daar te veel mense is wat ‘n spesifieke wedstryd wil kyk, sal die kaartjies in ‘n loting geplaas word.
Meer as 668 000 kaartjies is reeds in die vorige twee fases van kaartjieverkope verkoop, waarvan Suid-Afrikaners sowat die helfte gekoop het.
- Sapa-dpa