WB: Kaartjieverkope 'n hoofpyn
2010-01-15 09:58
Hamburg – Die vraag na kaartjies vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi deur lande se nasionale sokkerverenigings het vrese veroorsaak dat nie al die meer as 3 miljoen beskikbare kaartjies vir die toernooi verkoop sal word nie.
Die sperdatum vir aankope deur nasionale verenigings vir hul spanne se groepswedstryde is pas verby, maar dit wil voorkom of die meeste van die toegekende kaartjies aan Fifa terugbesorg sal moet word.
Volgens Duitsland se Sueddeutsche Zeitung het die Duitse sokkervereniging (DFB) slegs 'n aanvraag gehad vir 1 000 van die 21 000 toegekende kaartjies vir die drie groepwedstryde teen Australië, Ghana en Serwië.
Die Engelse en Nederlandse verenigings, wat tradisioneel groot groepe aanhangers het, kon ook nie hul kwota verkoop nie.
Nederland, wat tussen 2 000 en 3 000 kaartjies per groepwedstryd verkoop het, het beraam vir 10 000, maar het nou aan Fifa gevra om die sperdatum vir verkope uit te stel.
Fifa se derde verkoopsfase, wat op 5 Desember begin het, is onderweg tot 22 Januarie, wanneer ‘n elektroniese trekking sal plaasvind indien die vraag na kaartjies die aanbod daarvan oorskry.
- Sapa