Vuvuzelas raas net, sê Nigerië
2009-11-12 12:46
Kaapstad – Nigerië blyk glad nie mal te wees oor die Suid-Afrikaanse vuvuzela nie.
Die land se amptelike ondersteunersklub het vandeesweek gesê hulle gaan daarop aandring dat die gebruik van dié instrument by die Fifa o-17 Wêreldbeker verban word.
“Dit is raserig en nie deel van ons kultuur nie,” het Rafiu Ladipo, president van die Nigeriese Sokkervereniging se ondersteunersgroep, aan KickOffNigeria.com gesê.”
“Ons tradisie is om ons spanne te ondersteun deur liedjies te sing wat boodskappe aan die spelers op die veld stuur. Dit word gedoen tesame met tromme en trompette. Ons liedjies het verskillende betekenisse, en laat die spelers weet wat om op ‘n sekere tydstip gedurende die wedstryd te doen.”
Ladipo het gesê wanneer toeskouers vuvuzelas blaas, weet jy nie eens vir watter span hulle ondersteun nie. Volgens hom het dit geen betekenis nie, en is dit net geraas wat spelers en ondersteuners irriteer.
“Spelers het gekla dat hulle nie die fluitjie kan hoor nie. Ons gaan onmiddellik na hierdie kampioenskappe mense begin afraai om die vuvuzela te gebruik, omdat dit nie in ons kultuur is nie, en nie sin maak nie.”
- KickOff