Vuvuzela kry mededinger
2011-01-25 14:00
Kaapstad - Die Oekraïne het voorgestel dat sokkergeesdriftiges 'n plaaslike geraas-instrument by aanstaande jaar se Euro-toernooi gebruik wat sagter op die oor is as die omstrede vuvuzela, het die Unian nuusagentskap Maandag berig.
Die "zozulitsa" is 'n keramiekfluitjie met 'n sagte en aangename klank wat deur pre-historiese stamme gebruik was.
"Dié instrument het 'n lae, aangename klank en irriteer mense nie soos wat die vuvuzelas doen nie," het 'n woordvoerder vir die vereniging van sportbemarking in die Oekraïne, Oleksander Kucheriavsky, gesê.
Die Oekraïne is saam met Pole die gasheerland vir Euro 2012. En die plaaslike reëlingskomitee bespreek tans twee verskillende weergawes van die zozulitsa wat tydens die toernooi aan ondersteuners beskikbaar gestel sal word.
Stefan Reshko, 'n lid van die Oekraïnse sokkervereniging het gesê hy is skepties oor die zozulitsa voorstel. "Ek twyfel of Uefa mense met dié instrument by stadions gaan inlaat aangesien dit 'n harde voorwerp is.
Uefa het in September verlede jaar vuvuzelas by alle Europese en Kampioene-liga wedstryde verbied. En verduidelik dat hulle die kultuur en tradisie van mense wat by wedstryde sing sodoende wil beskerm.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA