Van Nistelrooy hang sokkerstewels op
2012-05-14 15:18
Malaga – Die Nederlandse sokkerster Ruud Van Nistelrooy, wat tans vir die Spaanse klub Malaga speel, het Maandag sy uittrede aangekondig.
Van Nistelrooy het tydens sy loopbaan as doelskieter ook vir Manchester United en Read Madrid uitgedraf.
"Gister (Sondag) het ek my laaste wedstryd as 'n professionele speler gespeel," het die 35-jarige Maandag by 'n mediakonferensie gesê.
"Ek dink die oomblik het aangebreek dat ek ophou, ek het 'n perk in my fisieke vermoë bereik," het hy bygevoeg.
"Maar daar kan geen beter manier wees om totsiens te sê as hierdie nie," het die doelvraat gesê nadat sy span 'n plek in aanstaande seisoen se Kampioeneliga gewen het, deur Sondag vierde op die Spaanse liga se punteleer te eindig.
Tydens sy loopbaan wat oor 20 jaar gestrek het, is Van Nistelrooy as die top-doelskieter in drie lande – Nederland, Engeland en Spanje – gekroon.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sapa - AFP