VSA kanselleer wedstryd in Egipte
2011-02-01 11:06
Kaïro - Die nasionale sokkerspan van Amerika het hul vriendskaplike wedstryd teen Egipte, wat vir 9 Februarie in die hoofstad Kaïro geskeduleer is, gekanselleer weens politieke spanning wat tans in dié land heers.
"Ons het baie uitgesien om teen Egipte kragte te meet, maar weens die huidige situasie het beide spanne besluit dat dit beter is om die wedstryd eerder te kanselleer," het die president van die Amerikaanse sokkervereniging, Sunil Gulati, Maandag in 'n verklaring gesê.
Amerika se volgende vriendskaplike wedstryd is op 27 Maart teen Argentinië in New Jersey, Amerika.
Egiptenare betoog sedert verlede week teen President Hosni Mubarak se skrikbewind en korrupsie in die regering.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sport24