United sit opmars voort
2011-09-19 09:31
Londen – Daar is skynbaar steeds geen keer nie aan Manchester United in sy opmars na ’n rekord 20ste Engelse Premierliga-kroon.
Die Red Devils het Sondagaand op Old Trafford ’n dramatiese sege van 3-1 behaal oor verlede sokkerseisoen se naaswenner, Chelsea, en een van die grootste aanspraakmakers op vanjaar se titel.
Doele deur Chris Smalling, Nani en Wayne Rooney het verseker dat Alex Ferguson (afrigter) se span sy onoorwonne rekord dié seisoen behou – én sy doeletotaal opskuif tot ’n ongeëwenaarde 21 in net vier wedstryde.
Met ’n voltal van 15 ligapunte is United steeds bo-aan die puntelys, gevolg deur Manchester City (13) en Chelsea (10).
Sake kon egter veel anders verloop het vir die afrigter Andre Villas-Boas se Blues met die besoekers wat verskeie maklike doelkanse weggesmyt – én die gewoonlik ongenaakbare Rooney wat boonop ’n strafdoelpoging – verbrou het.
Chelsea kon die bal maklik nóg vier keer agter in David de Gea se doelhoek laat beland het, was dit nie vir uitstekende keerwerk deur dié jong doelwagter en twee onooglike flaters deur die sukkelende Fernando Torres nie.
Dié skraal blondekop, wat ’n nagmerrietyd beleef sedert hy in Januarie vir £50 miljoen (bykans R600 miljoen) geskuif het, het weliswaar sy span se enigste doel (net sowat 30 sekondes ná die rustyd) aangeteken, maar sy korrelwerk was só haglik dat Villas-Boas nou sweerlik eerder vir Nicolas Anelka of Didier Drogba in sy beginspan sal insluit – veral met laasgenoemde wat binnekort van harsingskudding sal herstel.
Torres se tweede flater was van dié soort waaroor sokkerliefhebbers nog jare lank gaan praat.
Nadat hy ’n skitterende aangeë in die doelgebied bemeester en netjies om De Gea gedartel het, kon dié Spanjaard nie die oop doelhok met sy linkervoet vind nie.
Vroeër het Tottenham Hotspur met 4-0 klaargespeel met Liverpool, wat die stryd met net nege spelers voltooi het.
Dít nadat Charlie Adam in die eerste helfte met ’n rooikaart van die veld gejaag en Martin Skrtel se deelname kort ná die omdraaislag op dieselfde wyse kortgeknip is.
Die Togolese doelskieter Emmanuel Adebayor het Liverpool se swak dissipline uitgebuit met twee doele, nadat Luka Modric en Jermaine Defoe vroeër ook in die kol was.
Op Craven Cottage het Fulham ’n agterstand van twee doele deur Sergio Aguero uitgewis om die louere met City te deel.
Met ses doele elk is Aguero en sy spanmaat Edin Dzeko op een na die voorste Premierliga-doelskieters, met Rooney wat agt behaal het.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24