Uitgedunde Bafana hou asem op oor Mphela
2011-09-02 09:39
Bloemfontein – Die Suid-Afrikaanse sokkerspan sal sonder sy Killer-instink sukkel om ’n einde aan Niger se goeie vertoningslys in Niamey te maak.
Die Bafana Bafana-skerpskutter Katlego Mphela, met die bynaam Killer, het Donderdag ’n tweede agtereenvolgende oefening misgeloop nadat hy sy regterknie vroeër vandeesweek in ’n oefening beseer het.
Suid-Afrika is reeds kwaai uitgedun.
Kagisho Dikgacoi, Steven Pienaar, Reneilwe Letsholonyane en Davide Somma kon weens beserings nie oorweeg word nie, terwyl Moeneeb Josephs en Tlou Segolela hul ook vandeesweek moes onttrek.
Mphela reageer luidens ’n mediaverklaring goed op behandeling aan die vooraand van Sondag se kragmeting.
Suid-Afrika vertrek vandag na Niger waar die wedstryd van 16:20 (SA tyd) af beslis word.
Dit is Bafana se voorlaaste groepwedstryd om vir aanstaande jaar se die Afrikabeker-toernooi te kwalifiseer.
Hy kan dit met ’n sege regkry.
Hoewel Suid-Afrika onoorwonne is, kon hy nog nie een van sy kwalifiserende wegwedstryde wen nie. Dié wegwedstryde teen Sierra Leone en Egipte het gelykop geëindig.
Niger het dié twee spanne tuis geklop. Niger het trouens in September 2008 laas ’n tuiswedstryd verloor.
Die tuisspan sal in die wolke wees as Mphela nie ingespan kan word nie.
Dit was so te sê presies ’n jaar gelede – op 4 September 2010 in Nelspruit – waar hy Niger in die eerste ronde laat bontstaan het. Mphela het toe Suid-Afrika se eerste doel in sy sege met 2-0 aangeteken. Hy is aan die begin van die huidige seisoen uitstekend op dreef.
Ná sy twee doele in die onlangse opwarmwedstryd teen Burkina Faso is hy ná Benni McCarthy (31) en Shaun Bartlett (29) slegs die derde Suid-Afrikaner wat meer as 20 doele vir sy land kon aanteken.
- Die SAUK se onderhandelings om dié wedstryd uit te saai, het ’n dooiepunt bereik omdat Sports Five ’n hele R5 miljoen vir die uitsaairegte eis. Die SAUK sê in ’n verklaring dit is onredelik hoog – ver bo die verwante marktariewe wat gewoonlik R1.4 miljoen beloop.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24
- Beeld