Twee vas na Togo-aanval
2010-01-11 10:53
Luanda – Polisie in Angola het twee verdagtes in verband met die skietery op die Togolese sokkerspan in aanhouding geneem, het die staatsmedia in Angola Maandag gesê.
Twee verdagtes is in Cabinda, ‘n Angolese enklawe binne die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) naby waar Vrydag se aanval plaasgevind het, in hegtenis geneem, het die nasionale radio berig.
“Twee mense is gevang en sodra ons meer inligting het sal ons dit oorgee aan die publiek,” het Antonio Nito, Cabinda se provinsiale advokaat-generaal, aan die stasie gesê.
Togo se assistent-afrigter, Amalete Abalo, en die span se mediawoordvoerder, Stanislas Ocloo, is dood in Vrydag se voorval. Nege ander is beseer.
Die aanval het plaasgevind toe die span van die DRK op pad was na die provinsie Cabinda waar die span aan die Afrikabeker-toernooi, wat Sondag begin het, sou deelneem.
- Sapa-AFP