Tshabalala pak tasse vir Engeland
2011-01-17 11:10
Johannesburg - Kaizer Chiefs se Siphiwe Tshabalala hoop om die tweede Bafana-speler na Bongani Khumalo te word wat vanjaar vir 'n Engelse klub speel, nadat Nottingham Forest hom na 'n spanoefening genooi het, het die Sowetan Sondag berig.
"Dit is fantastiese nuus, ek kan nie wag om saam met Nottingham Forest te begin oefen nie," het Tshabalala gesê.
"Ek was verheug toe my agent (Jazzman Mahlakgane) my van die uitnodiging vertel het. Hierdie is die grootste deurbraak in my sokkerloopbaan. Ek wou nog altyd oorsee gespeel het omdat ek weet ek kan suksesvol wees," het die Bafana-ster bygevoeg.
Mahlakgane het gesê hy is dankbaar dat Chiefs se bestuurspan ingestem het om Tshabalala beskikbaar te stel vir evaluering by Nottingham Forest.
"Daar is absoluut geen manier waarop Nottingham hom nie 'n kontrak gaan aanbied nie. Siphiwe het oornag 'n sokker-superster geword nadat hy geskiedenis gemaak het deur die eerste doel van die 2010 Wêreldbeker aan te teken," het Mahlakgane bygevoeg.
"Hy is 'n speler wat hard werk en dit is wat Nottingham se afrigtingspan gaan beïndruk. Ek het klaar aan hom verduidelik dat as hy terugkom vir 'n week, dit slegs gaan wees om ons te kom groet."
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24