Togo moet huis toe, sê premier
2010-01-10 14:56
Lome, Togo - Die premier van Togo, Gilbert Houngbo, het Sondag sy land se nasionale sokkerspan aangesê om dadelik terug te keer huis toe uit Angola ná 'n dodelike aanval op sy span in die aanloop tot die Afrikabeker-toernooi.
"As daar 'n span of spelers onder die naam van Togo by die opening van die Afrikabeker-toernooi teenwoordig is, sal dit valse verteenwoordiging wees. Die span moet vandag nog terugkeer," het hy aan verslaggewers gesê.
"Ons verstaan die gevoel van spelers wat op die een of ander manier hul kollegas se dood wil wreek, maar dit sal onverantwoordelik van Togo se owerhede wees om hulle toe te laat om voort te gaan," het hy bygevoeg.
"Die span moet huis toe kom. Die regering se besluit bly onveranderd."
Dié stap volg nadat spelers in Togo se span besluit het om wel aan die Afrikabeker-toernooi deel te neem ter nagedagtenis aan hulle afgestorwe kollegas.
Gewapende mans het vroeër op die span se busse begin vuur toe hulle deur die Angolese provinsie Kabinda gereis het, en die assistent-afrigter en die span se woordvoerder is dood in die aanval.
'n Faksie van die Kabinda Bevrydingsfront (FLEC-PM) het verantwoordelikheid aanvaar vir die voorval. Dié groep beywer hom vir die onafhanklikheid van die olieryke Kabinda-gebied.
- Sapa-AFP