Toeskouers moet wegbly ná skeidsregter se bier teen kop
2011-04-08 14:20
Frankfurt – ‘n Duitse Bundesliga-sokkerspan sal sy volgende wedstryd agter geslote deure speel ná ‘n skeidsregter in hul vorige wedstryd met ‘n vol bierbeker teen die kop gegooi is.
Dit sal die eerste Bundesliga-wedstryd sonder toeskouers wees.
Dié besluit Vrydag deur die Duitse sokkerfederasie, DFB, volg op ‘n voorval in St Pauli Hamburg se wedstryd verlede Vrydag teen Schalke.
‘n Assistent-skeidsregter is met ‘n vol bier teen die kop gegooi deur 'n onbekende persoon uit die skare op St Pauli se tuisveld.
Volgens DFB kon St Pauli nie ‘n veilige omgewing vir die skeidsregters verseker nie.
‘n Sigaretaansteker en munte is ook na die beampte gegooi.
Die wedstryd is in die 87ste minuut gestop, met Schalke 2-0 voor.
St Pauli het tot Maandag om die besluit te appelleer.
Volg Nuus24Sport op Twitter.
- SAPA