Switserland hersien wetgewing ná FIFA-skandaal
2010-10-24 14:44
Geneva - Switserland se Departement van Sport hersien tans sy wette
oor korrupsie in sport ná die skandaal wat die Zurich-gebaseerde FIFA getref
het.
Die Switserse koerant Sonntagszeitung het berig dat die
Switserse Minister van Verdediging en Sport, Ueli Maurer, amptenare gevra het
om die kwessie te ondersoek en met voorstelle vorendag te kom.
Buiten sy eie plaaslike sportsverenigings huisves
Switserland byna 40 intenasionale federasies soos die wêreld se
sokkerbeheerliggaam FIFA, die Europese beheerliggaam UEFA, die Internasionale
Olimpiese Komitee en die Internasionale Fietsry Unie.
"Korrupsie is tans 'n groter bedreiging vir die beeld
van sporte as middelmisbruik," het die woordvoerder van die federale sportkantoor,
Christoph Lauener gesê.
Dít volg nadat FIFA voorlopig twee senior amptenare geskors
en 'n ondersoek geloods het weens bewerings dat dié twee hul stemme vir die Wêreldbeker-gasheerland
vir 2018 en 2022 wou verkoop.
'n Britse koerant het ook berig dat die voormalige FIFA
sekretaris-generaal, Michel Zen-Ruffinen amptenare geïdentifiseer het wat hul
stemme vir geld sou ruil. Zen-Ruffinen het glo aangebied om mense vir dié doel
aan mekaar voor te stel.
- SAPA