Ster van Bafana by huis beroof
2010-11-09 07:36
Johannesburg - Die bekendheid van Siphiwe Tshabalala, Bafana Bafana se WB2010-doelskieter, het waarskynlik sy lewe gered, maar dit kon nie keer dat rowers hom, sy familie en sy vriende beroof nie.
Drie mans, onder wie een ’n pistool gehad het, het Shabbas, soos Tshabalala (26) onder sy bewonderaars bekend staan, sy twee nefies en nog twee mans verlede Maandag van selfone en beursies beroof.
Volgens konst. Vincent Mashiteng, polisiewoordvoerder van Roodepoort, het een van die rowers aan ’n makker gesê “hoekom het jy my nie gesê Simphiwe Tshabalala bly hier nie?”
Die rowers het egter voortgegaan om die gewilde doelskieter te beroof en gesê: “Ons is nou hier, so kom ons maak maar klaar.”
Tshabalala, wat die naweek vir Kaizer Chiefs uitgedraf het, het oornag bekend geword nadat hy Suid-Afrika se eerste doel in die WB2010 aangeteken het. Dié doel was ook die eerste doel in die Wêreldbeker-sokkertoernooi.
Volgens Mashiteng het die mans toegang tot die huis verkry deur ’n besoeker wat iets kom haal het te oorval en met ’n pistool te dreig.
Tshabalala het saam met ’n vriend snoeker gespeel toe die mans toeslaan.
“Hy het ons beveel om op ons mae te lê, wat ons gedoen het, en het selfone en beursies geëis. Hy het ook my neefs en vriend op die vloer laat lê terwyl hy die huis deurgesoek het.
“Hy het altesaam nege fone en my beursie gevat,” het Tshabalala aan die Sondagkoerant Sunday World gesê.
Die doelskieter het aan die koerant gesê hulle kon dood gewees het as hulle nie saamgewerk het nie.
“Ek dink wat ons gered het, was dat hulle geweet het wie ek is,” het hy gesê.
Mashiteng het gister gesê hy dink ook Tshabalala se bekendheid het sy lewe gered.
“Gewoonlik bind die rowers die mense vas en maak hul huis leeg, of maak hulle seer.
“Toe hulle sien dis Tshabalala het hulle net die selfone en beursie gevat en gevlug,” het hy gesê.
Niemand is beseer nie en geen skote is afgevuur nie.
’n Patroon is op die toneel gevind wat uit die pistool geval het toe die rower dit oorgehaal het.
’n Klag van ’n huisrooftog word ondersoek.
Volg Nuus24 op Twitter.