Spaanse Beker beland onder bus se wiel
2011-04-21 13:48
Kaapstad – Kort na hulle dramatiese oorwinning in die Spaanse Beker het Real Madrid letterlik die beker uit hulle hande laat glip – of, meer spesifiek, Sergio Ramos s’n.
Ramos het aanhangers se oë behoorlik laat rek toe hy tydens 'n oorwinnings-optog die beker per ongeluk laat val het. Die beker het onder die bus waarop die span gery het se wiel beland.
Die Los Blancos het Woensdagaand die eerste keer sedert 1993 die beker hoog gehou.
Die Portugese vleuel Cristiano Ronaldo, doelskieter op die aand, het in ekstra tyd die wendoel (en die enigste doel) van die eindstryd met die kop ingestuur en uiteindelik Barcelona se greep oor hulle verbreek.
Dié aardsvyande kom weer volgende week teen mekaar te staan, dié keer in die Europese Kampioeneliga.
Volg Nuus24Sport op Twitter.