Sokker-kyker veg vir sy lewe
2009-09-18 10:59
Belgrade, Serwië - ’n Franse sokkerondersteuner veg vir sy lewe ná hy in ’n bakleiery voor ’n wedstryd beseer is.
Die man is erg aangerand toe ’n geveg etlike ure voor ’n Uefa-wedstryd tussen die Serwiese Partizan Belgrade-span en Frankryk se Toulouse in Belgrade uitgebreek het.
Die 28-jarige Toulouse-ondersteuner het kopbeserings opgedoen en moes in die waakeenheid aan masjiene gekoppel word om hom aan die lewe te hou.
Nog ’n Fransman, sowel as een Serwiër, is vir ligte beserings behandel, het ’n dokter by die Belgrade-noodkliniek Donderdag aan die media gesê.
Volgens berigte is sowat 15 Franse sokkerondersteuners deur omtrent 30 Partizan-ondersteuners aangeval.
Toulouse het die wedstryd 3-2 gewen.
- Sapa-dpa