Sokker-breier word bespreek
2009-10-19 11:34
Kaapstad - Die toekoms van die omstrede Bafana Bafana-breier, Joel Santana gaan moontlik vandag bespreek word wanneer die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) se nuut verkose komitee Maandag vergader.
Kirsten Nematandani, die president van Safa, sy drie adjunkte Mandla Mazibuko, Irvin Khoza en Mwelo Nonkonyana, asook Danny Jordaan en Raymond Hack, onderskeidelik die hoof uitvoerende amptenare van die plaaslike reëlingskomitee van die Fifa Sokker-Wêreldbeker en Safa en Alpha Mchunu sal na verwagting vandag bymekaar kom om Santana se toekoms te bespreek.
Die drie assessors, Jomo Sono, Gavin Hunt en Clive Barker sal ook na verwagting hulle verslag oor die vriendskaplike wedstryd tussen Bafana Bafana en Ysland gee.
“Ons gaan talle kwessies, insluitend ons vergadering met Sepp Blatter, die president van die wêreldsokkerbeheerliggaam (Fifa) en Issa Hayatou van die Afrika-beheerliggaam (CAF) bespreek.
- Sport24