Slanker Benni miljoene kwyt oor slakkegang
2011-02-08 09:12
Londen. – Die voormalige Bafana Bafana-swaargewig Benni McCarthy is in sy groot stryd om vetjies af te skud met meer as R2,4 miljoen deur West Ham beboet omdat hy nie aan fiksheidsteikens van dié sokkerklub voldoen het nie.
Maar toe hy die kilo’s afgeskud het, was hy ook nie tussen die 25 Premierliga-spelers vir die tweede helfte van die Engelse seisoen nie. Avram Grant, West Ham-afrigter, meen die verslanking het Benni (33) te stadig gemaak.
Hy sê die eens bonkige McCarthy het eindelik die teikens bereik, maar dat dit sy beweging beïnvloed het. Die klub soek in die stadium beweeglike spelers waarvan daar ’n klomp is om van te kies.
McCarthy is in die tydperk waarin hy gewig moes verloor, teikens gestel en elke keer wat hy nie daaraan voldoen het nie, is sy weeklikse salaris (£38 000) van hom verhaal.
Hy is glo vyf keer op dié manier “beboet”.
West Ham het Robbie Keane pas as leenspeler bekom. Victor Obinna, Frederic Piquionne en Carlton Cole kan bo McCarthy verkies word.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24