Skeidsregter tree uit ná fiksheid-fiasko
2012-07-24 13:22
Johannesburg – Die plaaslike sokker-skeidsregter Charl Theron het sy onmiddelike uittrede uit die sport aangekondig ná hy nie die Suid-Afrikaanse sokkervereniging (Safa) se voorseisoense fiksheidtoets kon slaag nie.
Theron is die eerste skeidsregter om uit te tree sedert verlede week se fiksheidtoets-fiasko waartydens slegs een van Suid-Afrika se top-skeidsregters die verpligte voorseisoense fiksheidstoets kon slaag, het SuperSport.com berig.
Safa is soms genoop om skeidsregters, wat nie die fiksheidtoets geslaag het, toe te laat om weer aan toetse deel te neem. Dít is gedoen sodat daar genoeg ervare skeidsregters beskikbaar is vir die begin van die nuwe seisoen.
Theron was ná die tweede keer wat hy aan die toets deelgeneem het, ook nie fiks genoeg nie.
Die Namibies-gebore Theron is 23 jaar lank al ‘n skeidsregter, en het sy loopbaan op skool begin.
“Dis tyd vir my familie om my onverdeelde aandag te geniet. Mag die Here al my kollegas in hul toekomsplanne seën,” het Theron gesê.
Verlede week se toetse het ‘n groot wolk oor plaaslike skeidsregters geplaas. Verskeie top-skeidsregters, insluitend Jerome Damon, en die Fifa-geakkrediteerde duo van Daniel Volgraaf en Victor Hlungwani, het die toetse weens siekte en besering misgeloop en sal dit in 'n latere stadium doen.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter