Safa soek meer wittes in sokker
2010-07-21 10:00
Kaapstad. – Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) wil hê meer wit Suid-Afrikaners moet sokker speel.
Volgens Kirsten Nematandani, Safa se president, het dié organisasie briewe ontvang van wit Afrikaanssprekende ouers wat graag wil hê hul kinders moet sokker speel en raad wil hê oor hoe om hul skole sover te kry om dié sportkode in te stel.
Safa se uitvoerende hoof, Leslie Sedibe, het gesê as meer wit mense sokker speel, sal dit die sport “interessanter en lewendig” maak.
“Ons wil mense soos Andy Karacinski en al daardie ander wit sokkerspelers van die 80’s sien.”
Hy meen die swak deelname van voormalige model C- en wit skole is ’n probleem. “Baie van hierdie skole stel bloot nie in sokker belang nie.”
Volgens Nematandani het Safa byvoorbeeld ’n brief gekry van ’n Afrikaanssprekende ouer van Magaliesburg wat beweer haar kind word nie toegelaat om sokker by die skool te beoefen nie.
Die DA-LP, Donald Lee, het egter gemaan dat sportkodes nie in skole se kele afgedruk moet word nie.
“Onthou 1976, toe leerlinge gedwing is om ’n sekere taal in skole te beoefen,” het Lee gesê.
Hy het gereageer nadat die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor sport, Butana Khompela, gesê het die kwessie van wit skole “wat net rugby toelaat”, moet aandag kry.
- Beeld