Safa soek Bafana, maar nie vir R33 milj.
2011-04-28 10:58
Johannesburg - Die Suid-Afrikaanse sokkervereniging (Safa) is vasbeslote om 'n nuwe bynaam vir Suid-Afrika se nasionale sokkerspan te vind tensy die eienaar van die Bafana-handelsmerk sy prys heroorweg, het die Sowetan Woensdag berig.
Die land se sokkerbase en die besigheidsman Wayne Smidt, wie se maatskappy Stanton Woodrush die Bafana-handelsnaam besit, vergader binnekort weer om dié netelige saak te bespreek.
Stanton Woodrush het gesê die maatskappy het verlede week 'n aanbod aan Safa se taakspan bestaande uit Danny Jordaan, Kirsten Nematandani en Alpha Mchunu gestuur.
Jordaan hulle kon nie vir kommentaar bereik word nie maar 'n bron by Safa wat nie genoem wou word nie het gesê, "ons is nie bereid om R33 miljoen te betaal vir die naam nie.
"Ons is eintlik nie bereid om 'n sent te betaal nie, aangesien hierdie ou reeds miljoene gemaak het uit die Bafana-handelsmerk."
Intussen is bevestig dat Suid-Afrika op 14 Mei in Dar es Salaam in 'n vriendskaplike sokkerwedstryd teen Tanzanië sal uitdraf.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24