Safa kry regshulp ná groot drama
2011-10-10 07:27
Johannesburg – Die land se sokkerbase het reeds regshulp ingewin en gaan Suid-Afrika se bisarre “weglating” uit aanstaande jaar se Afrikabeker-toernooi betwis.
Só het Kirsten Nematandani, president van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa), in ’n verklaring gesê.
Dit volg nadat Bafana Bafana Saterdagaand ná hul gelykop-uitslag van 0-0 teen Sierra Leone in Nelspruit eers “deurgedring” het tot dié skouspel, maar oomblikke later gehoor het dat dit nie die geval was nie.
Terwyl Bafana en die Wes-Afrikane vir langer as 90 minute doelloos rondgeploeter het in die Mbombela-stadion, het ‘n verswakte Egipte in Kaïro vriend én vyand verras deur Niger met 3-0 te slag.
Ondanks dié uitslag het die Konfederasie van Afrika-sokker (CAF) beslis dat Niger deurdring tot dié toernooi, al het Bafana bo-aan Groep G geëindig danksy ’n beter doeleverskil as dié span én Sierra Leone.
Pitso Mosimane, die nasionale afrigter, sy spelers, toeskouers, kommentators en selfs ’n stewige Safa-afvaardiging het (verkeerdelik) feesgevier toe die eindfluitjie blaas.
Volgens CAF sal Niger, wat nou die eerste keer in sy geskiedenis aan die Afrikabeker-toernooi sal deelneem, sake in Gaboen en Ekwatoriaal-Guinnee uitspook aangesien hy die beste gevaar het in kragmetings tussen dié drie lande.
“Safa het reeds appèl aangeteken by CAF oor dié uitkoms,” het Nematandani gesê.
“Suid-Afrika het bo-aan die groep geëindig danksy ’n beter doeleverskil (doele aangeteken teenoor doele afgestaan) en dit word wêreldwyd aanvaar as die manier om tussen spanne te onderskei wanneer hulle ewe veel ligapunte het.”
Volgens hom het Safa regshulp ingewin en is dié beheerliggaam vol vertroue dat CAF se beslissing omgekeer sal word.
“Alles is nog nie verlore nie – ons glo ons het ’n saak en sal tot die einde veg daarvoor,” het Nematandani gesê.
“Aan die ondersteuners en die span wil ek net sê: hou moed en laat alles aan ons oor.”
Intussen het ’n teleurgestelde Mosimane gister erken hy het die land “in die steek gelaat”.
“Suid-Afrika verdien om in die toernooi te speel en dit voel vir my of ek die land en sy mense in die steek gelaat het.
“Dit was bitter naby en ek kan eenvoudig nie verstaan hoe ons bo-aan ons groep kan eindig, maar steeds nie deurdring nie.”
Volgens Jingles het hy ’n meer verdedigende benadering gevolg toe hy kort ná die rustyd hoor dat die Egiptenare voorloop.
“In die eerste helfte het ons ’n paar doelkanse gehad, maar dit nie benut nie en in die tweede helfte wou ek net seker maak dat ons gelykop speel.
“Ek sou mos nooit ’n doelskieter (Bernard Parker) met ’n middelveldspeler (Reneilwe Letsholonyane) vervang het, as ek geweet het ’n telling van 0-0 sou nie goed genoeg wees nie!”
Mosimane het ook gekap na die “swak” toestand van velde in Afrika en “onbevoegde” wedstrydbeamptes.
Bafana se nederlaag van 1-2 teen Niger in Niamey verlede maand het dié span eindelik duur te staan gekom.
“Dis baie moeilik om in Afrika te speel en CAF moet beslis toesien dat daar op beter velde en met bevoegde skeidsregters gespeel word,” het Mosimane gesê.
“Sokker in Europa en ander streke is uitstekend georganiseer en baie meer regverdig, maar Afrika is ’n oerwoud.
“Dis baie hartseer dat dinge só werk, want elkeen van ons het ons lywe en lewens op die spel geplaas om te kwalifiseer.”
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg