Safa boos oor krieket op TV
2011-01-13 15:35
Johannesburg - Die Suid-Afrikaanse sokkervereniging (Safa) het die SABC Donderdag daarvan beskuldig dat hulle "geen respek het vir die Bafana-naam nie" omdat hulle voorkeur aan krieketwedstryde gee.
Safa wil hê dat die nasionale uitsaaier sy televisie-tye vir sokker moet verander net soos wat hulle met krieket gedoen het.
"Ek is geskok oor die voorkeur wat aan krieket gegee word," het Safa se uitvoerende hoof, Leslie Sedibe, Donderdag gesê.
"Ek is 19:00 gisteraand (Woensdag) huis toe om die nuus regstreeks op SABC3 te kyk. Maar in plaas van die nuus, het ek die Proteas se eendagwedstryd teen Indië gesien."
"Die SABC het vir ons gesê dat 20:30 sokkerwedstryde nie na 'n 19:00 tydgleuf geskuif kan word nie omdat nuus dan geskeduleer is," het Sedibe bygevoeg.
Safa en die SABC ontmoet later vandag (Donderdag) om die hernuwing van uitsaairegte van Bafana-wedstryde, wat in Maart verval, te bespreek.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24