Safa: 'SA sokker moet regkom'
2009-09-27 18:28
Johannesburg - Kirsten Nematandani, die nuut verkose president van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) het belowe om Suid-Afrikaanse sokker te transformeer en Bafana Bafana reg te ruk.
Dit beteken dat die onder presterende Joel Santana, Bafana Bafana se afrigter moet wakker skrik om sy werk te behou.
Die Football Transformation Forum (FTF) is ongelukkig met Bafana Bafana se swak prestasies en powere toestand.
Hy het daarom gesê Santana se 16-maande kontrak sal onder die mikroskoop geplaas word indien hy of Danny Jordaan, hoof van Fifa se plaaslike reëlingskomitee vir 2010, president word.
Santana moet nou sy sokkies optrek en die nasionale sokkerspan reg ruk om Junie volgende jaar in die wêreldbeker te kompeteer.
Die nuwe baas van Safa oorweeg dit om Santana nog 'n kans te gee, ongeag die FTF wat dreig om hom af te dank.
"Ek kan die afrigter nie afdank na slegs twee ure in my nuwe pos nie. Maar ek sal 'n ingeligte besluit maak nadat ek al die feite agter mekaar het. Ons moet seker maak dat Bafana Bafana suksesvol is tydens die wêreldbeker. Daarom moet ons ons volle ondersteuning aan die afrigter en sy span gee," het Nematandani verduidelik.
Die nuwe Safa-baas het Fifa se beheerliggaam verseker dat sy uitvoerende komitee die beste Sokker-Wêreldbeker nóg sal lewer.
"Sokker is die spel van die mense en Safa moet dit terug gee aan hulle," het hy bygevoeg.
- Sapa