SA sokker bly in kollig
2009-10-26 09:20
Johannesburg. – Suid-Afrikaanse sokkerbase het Saterdagaand in Soweto bloedrooi gebloos toe ’n kragonderbreking die eindstryd van MTN se skatryk uitdaagtoernooi vertraag het.
Die begin van die tweede helfte is langer as ’n uur vertraag nadat die helfte van die spreiligte die gees aan die einde van rustyd gegee het.
Die einste Orlando-stadion is onlangs teen ’n koste van R280 miljoen opgegradeer om as oefenveld vir aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi ingespan te word.
Benewens die kragonderbreking, was die Premierliga se base ook nie tevrede met die toestand van die veld se oppervlak nie.
Die veld was nie op sy beste nie. Die eindstryd is met ’n maand uitgestel omdat vyf van Ajax se spelers vir Amajita in die onlangse Wêreldbeker-toernooi vir o.20-spanne in Egipte gespeel het.
Die KwaZulu-Natalse klub Golden Arrows het die wentjek van R8 miljoen ontvang toe hulle Ajax Cape Town met 6-0 verniel het.
Joseph en Richard Henyekane, Thokozani Mshengu, Ntlantla Zothwane en Njabalo Manqaba het doele vir Arrows aangeteken, terwyl hulle ook ’n pasella gekry het toe Ajax se verdediger Deniss Ivanovs die bal in sy eie doelhok geskop het.
Hans Vonk, Ajax se doelwagter, was daarteen gekant dat spel tydens die kragonderbreking moes voortgaan. Ironies genoeg het hy vier doele afgestaan toe spel eindelik weer hervat is met al die spreiligte in werking.
- Beeld