SA-doelwagter maak U-draai, terug by Bafana
2012-08-30 14:23
Johannesburg – Die doelwagter Moeneeb Josephs, wat vroeër vanjaar sy uittrede weens familieredes aangekondig het, is teruggeroep na die Bafana Bafana-groep.
Bafana se nuwe afrigter, Gordon Igesund, het Donderdag sy eerste volledige groep vir vriendskaplike wedstryde aanstaande week teen Brasilië in Sao Paulo en die daaropvolgende week teen Mosambiek in Nelspruit aangekondig.
Igesund het gesê hy het Josephs nie gesmeek om homself weer beskikbaar te stel nie.
"Hy het gesê hy wil graag weer meeding vir 'n plek in die nasionale span en ek is baie gelukkig daaroor," het Igesund gesê.
"Moeneeb het intussen 'n brief aan Safa gestuur waarin hy sy uittrede terugtrek."
"Ek het hom nooit gevra om terug te kom nie. Ek wou net weet hoekom hy uitgetree het," het die breier bygevoeg.
Safa se uitvoerende hoof, Robin Petersen, het gesê hy het hoë verwagtinge van die Bafana-span onder Igesund se afrigterskap.
"Ons is by 'n keerpunt in SA-sokker," het Petersen gesê.
“Ons doel is om in die volgende 10 jaar aanhoudend onder die topdrie in Afrika en toptwintig in die wêreld te wees."
So lyk die nuwe Bafana-groep:
Doelwagters: Wayne Sandilands, Moeneeb Josephs, Itumeleng Khune.
Verdedigers: Siyabonga Sangweni, Bevan Fransman, Bongani Khumalo, Eric Mathoho, Anele Ngcongca, Punch Masenamela, Kamohelo Mokotjo, Kgosietsile Ntlhe.
Middelveldspelers: Steven Pienaar (kaptein), Reneilwe Letsholonyane, Siphiwe Tshabalala, Bernard Parker, Thulani Serero, May Mahlangu, Katlego Mashego, Thabo Matlaba, Dean Furman, Kagisho Dikgacoi, Lerato Chabangu.
Doelskieters: Siyabonga Nomvethe, Dino Ndlovu, Thamsanqa Gabuza.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- SAPA