Rooney moet hoes ná aandjie uit
2012-01-02 19:06
Manchester – Die Manchester United-doelskieter Wayne Rooney is 'n boete gelykstaande aan 'n week se salaris opgelê ná hy oor die Kersnaweek 'n aandjie uit saam met sy vrou en vriende geniet het, het die Britse media berig.
United het Rooney uit die span weggelaat vir verlede Saterdag se nederlaag van 3-2 teen Blackburn.
Die amptelike rede vir sy weglating was "fiksheidsprobleme", maar verskeie Britse koerante het intussen berig die eintlike rede is 'n oefensessie op die 27ste Desember waarin hy sleg gevaar het omdat hy glo die vorige aand saam met sy vrou, Coleen, en sy spanmaats Jonny Evans en Darron Gibson gekuier het.
Rooney is 'n boete van ongeveer £200 000 (sowat R2,5 miljoen) opgelê. Evans en Gibson is ook beboet.
Sir Alex Ferguson het Rooney, Evans en Gibson ook aangesê om Woensdag – 'n af dag – in te kom vir 'n oefensessie op hul eie. United speel volgende Woensdag teen Newcastle.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- SAPA