Rooney: 'Ek het Man City nooit oorweeg'
2010-11-26 13:24
Londen - Manchester United se doelskieter, Wayne Rooney, het onthul dat hy eerder oorsee sou gaan sokker speel as om by Manchester City aan te sluit.
"Almal sê dat ek definitief by Manchester City sou aansluit. Glo my maar, as ek Manchester United sou verlaat sou dit nie vir 'n Engelse klub gewees het nie," is Rooney Vrydag op sy klub se webtuiste, www.manutd.com, aangehaal.
Rooney het verlede maand 'n bom laat bars toe hy aangekondig het dat hy United wil verlaat omdat dié klub nie meer ambisisie het nie. Maar kort daarna het hy van mening verander en 'n kontrak van vyf jaar met die Red Devils gesluit.
Hy glo nou dat dit 'n fout sou wees om United te verlaat nadat hy Woensdag na afloop van 'n Uefa-kragmeting aan joernaliste gesê het: "Kon dit die grootste fout wees wat ek nog gemaak het? Ja, natuurlik."
Rooney het United-ondersteuners om verskoning gevra vir sy uitsprake oor die klub en gesê, "ek dink ek het reeds jammer gesê. Maar almal sê ek het nie. So, as dit die geval is, dan sê ek dit weer. Ek's regtig baie jammer."
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24