R500 000 vir joernaliste in PSL-kompetisie
2012-08-13 17:44
Johannesburg – Die Premier Sokker Liga (PSL) beplan ‘n kompetisie waar joernaliste die uitslae van die sokkerwedstryde gaan voorspel, met die wenner wat ‘n kans staan om R500 000 te wen.
Die PSL se voorsitter, Irvin Khoza, het tydens die aankondiging van die kompetisie gesê dat hulle “besluit het om nie die opwinding van die kompetisie net vir die spanne te los nie. Ons wil die media uitdaag om voorspellings oor wedstryde, gebaseer op hul kennis van die spanne en die toestande, te maak.”
Die wenners van die kompetisie se name sal in ‘n loting gesit word. Die wen-joernalis sal met R500 000 wegstap, het die Argus berig.
“Die PSL het baie bronne geraadpleeg om seker te maak dat die kompetisie nie enige etiese kwessies aanraak nie,” het Khoza gesê.
“Ons is tevrede dat die kompetisie nie joernaliste wat stories oor die PSL doen, in die versoeking sal stel om oneties te wees nie.”
“ Hierdie kompetisie sal eerder die werk van die joernalis verbeter sonder enige negatiewe invloede.”
“Die PSL het ook voorsiening gemaak vir joernaliste wat nie prysgeld mag kollekteer as gevolg van hul werkgewers nie. Dié joernaliste kan hul prysgeld aan ‘n liefdadigheidsorganisasie van hul keuse skenk,” het Khoza bekend gemaak.
– Volg Nuus24Sport op Twitter