Pitso se 'kop (weer)op ’n blok'
2012-02-04 10:13
Johannesburg – Die Suid-Afrikaanse Sokkerfederasie (Safa) het Vrydag gesê hy het glad nie bedoel om onsekerheid te skep oor die toekoms van die nasionale afrigter, Pitso Mosimane, nie.
Berigte wou dit Vrydag hê dat Mosimane se kop gaan rol as Bafana Bafana nie aanstaande jaar ten minste die eindstryd van die Afrikabeker-toernooi in Suid-Afrika haal nie.
Dit volg nadat die waarnemende president van Safa, Mwelo Nonkonyana, gesê het hy is bang om die uitdrukking “koppe sal rol” te gebruik, maar dit is presies wat sal gebeur as die span nie die eindstryd haal nie.
Vrydag het Safa egter gesê dit was nooit sy idee om onsekerheid rondom Mosimane se posisie te skep nie.
“Safa wil dit net duidelik maak dat hy volle vertroue het in die afrigter en die spelers.
“Ons glo wel dat die span ten minste verder as die groepfase moet vorder en die ideaal is dat hy voor sy tuisskare in die eindstryd speel.
“Alles in sokker draai rondom wen. Ons weet presies watter invloed die nasionale span se vertonings op die gemoed van die nasie het.
“Dit is ’n verantwoordelikheid wat ons én die nasionale afrigter nie ligtelik opneem nie. Die nasie wil hê dat die span moet wen en ver vorder in die toernooi,” lui die verklaring voorts.
Volgens Safa is hy in beheer van die span en kan hy daarom, soos Nonkonyana gesê het, minimum vereistes vir prestasie stel.
Safa glo ook dat hy hoë doelwitte moet stel omdat dit as aansporing vir beter vertonings sal dien.
“Ons wil wen.”
Safa se doelwit oor die kort termyn is om toe te sien dat Bafana Bafana “uitstekend vaar” in volgende jaar se Afrikabeker-toernooi en kwalifiseer vir die Wêreldbeker-toernooi van 2014 in Brasilië.
Safa het gesê sy doelwit oor die lang termyn is om toe te sien dat Bafana Bafana een van die top-drie spanne in Afrika word én bly.
Bafana Bafana het die Afrikabeker-toernooi in 1996 met sy eerste probeerslag gewen.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg