Pitso gooi deur oop vir jonges
2012-01-11 08:01
Johannesburg – Bafana Bafana pak Zambië Woensdag met een oog reeds op die volgende Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2014 in Brasilië en daarom sal “soveel moontlik” groentjies ’n kans kry om te speel.
Pitso Mosimane, die Suid-Afrikaanse afrigter, sê al die spelers in sy uitgedunde groep kan moontlik hul staal toon wanneer die tuisspan om 16:30 in die Randse Stadion aantree.
Dié littelosmaker is deel van verskeie lande se voorbereiding vir die Afrikabeker-toernooi, wat later vandeesmaand in Gaboen en Ekwatoriaal-Guinnee begin.
Bafana kom Sondag in Rustenburg ook teen die hoogaangeskrewe Ghana te staan nadat Mosimane-hulle se aanslag op ’n plek vir dié vasteland se skouspel einde verlede jaar op dramatiese wyse op die rotse beland het.
“Omdat dié wedstryde nie volwaardige internasionale status het nie, is daar ’n moontlikheid dat ek al die spelers in die groep kan inspan,” sê Mosimane.
“Dis twee uitstekende geleenthede om te sien wat ons in die voorraadkas het, want die meeste van die spelers in dié groep het hulle eers onlangs by ons aangesluit.”
Tog het een van dié nuwelinge, die doelskieter Ryan Chapman, sy teenstaanders gewaarsku dat daar niks “vriendelik” aan dié kragmetings sal wees nie.
“Ons neem dié wedstryde ernstig op, want dis teen spanne wat in die Afrikabeker-toernooi gaan speel en boonop ’n uitstekende kans vir baie van die ouens om te wys waartoe hulle in staat is.
“Dit sal fantasties wees om ’n doel of twee aan te teken, maar my eerste mikpunt is om te verseker dat ek in die lang termyn deel bly van Pitso se planne.”
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg