Pienaar kan kies; Spurs of Chelsea
2011-01-18 11:29
Kaapstad – Everton het op ‘n fooi vir die moontlike oordrag van Bafana Bafana middelskakel Steven Pienaar na Tottenham Hotspur besluit, berig BBC.
Tottenham se planne is uit die mou enkele dae na ‘n fooi ook van nóg ‘n Londense klub, Chelsea, aanvaar is.
Pienaar is Sondag uit Everton se span gelaat en kon langs die kantlyn oor sy toekoms besin terwyl sy span 2-2 teen Liverpool gelykop gespeel het.
Sy kontrak verstryk aan die einde van die seisoen en Chelsea het glo £3miljoen (sowat R33 miljoen) vir sy dienste aangebied.
Die voormalige Ajax Kaapstad en Ajax Amsterdam speler het in 2007 van Duitsland se Borussia Dortmund na Everton verskuif vir ‘n permanente oordrag van £2 miljoen (sowat R22 miljoen) in 2008.
Pienaar se spelpeil is nie wat dit laas jaar was toe hy as Everton se speler van die jaar aangewys is nie.
Everton het besluit om nou munt uit Pienaar te slaan uit vrees van ‘n verlaagde waarde as sy spelpeil verder verswak nader aan die seisoen se einde.
Tottenham het probeer om Pienaar tot ‘n ooreenkoms te bind voor ‘n kontrak geteken is waarvolgens hy sonder enige oordragsfooi aan Everton die einde van die seisoen na White Hart Lane sou skuif.
Chelsea se jagtog het egter Spurs-breier forseer om sy planne publiek te maak.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24