Parreira maak veranderinge
2009-11-16 10:08
Bloemfontein – Bafana Bafana is vas beslote om ‘n tree na verbetering te gee wanneer hulle Dinsdagaand teen Jamaika in hul laaste internasionale vriendskaplike wedstryd van 2009 sal meeding. Die wedstryd skop af om 20:15 te Free State Stadion.
Carlos Alberto Parreira, Bafana se afrigter, het aangedui hy wil ‘n paar veranderinge aan die span bring wat geen punte teen Japan in Port-Elizabeth kon aanteken nie. Maar hy het nog nie aangedui wie in of uit die beginspan is nie.
Bafana se gelykoptelling Saterdag teen die 40ste beste span in die wêreld, op die Nelson Mandela Bay stadion, het ‘n hele paar probleemareas aan Parreira uitgewys waarop hy moet verbeter in die sewe maande voor die 2010 Wêreldbeker in Junie in Suid-Afrika afskop.
Parreira se grootste probleem is om selfvertroue by sy doelskieters te kweek.
Volgens Parreira is daar nie sogenaamde swak spanne in internasionale sokker nie.
“Ons moet op dieselfde manier getoets word asof ons teen Japan speel, wanneer ons teen Jamaika gaan speel.
“Japan het reeds vir die Wêreldbeker gekwalifiseer, en dus het hulle baie druk op ons geplaas.Ons gaan Jamaika op dieselfde manier benader soos ons Japan benader het, en ons verwag ‘n tawwe wedstryd Dinsdagaand.”
Hy het reeds gewaarsku dat Brasilië slegs 1-0 teen Jamika in Londen kon wen, en dit is genoeg waarskuwing dat Jamaika nie ligtelik opgeneem moet word nie.
Terwyl Jamaika reeds drie wedstryde gewen het, vier gelykop gespeel het, en twee van hul nege internasionale wedstryde wat in 2009 gespeel was, verloor het, is hulle steeds nie in dieselfde klas soos die goed gedissiplineerde en georganiseerde Japanese span nie.
Parreira het egter gesê hy is tevrede met die span se prestasie teen Japan, maar hy wil meer inspanning en verbetering sien.
Die kanse is goed dat Parreira weer met die doelskieters Benni McCarthy en Katlego Mphela sal begin.
- Sapa