Nuwe sokkerafrigter ‘is nog nie aangewys’
2010-06-26 06:22
Die Burger
Johannesburg. – Gavin Hunt se gebrek aan internasionale ervaring sal straks ’n vroeë doodskoot beteken vir sy kanse om die volgende Bafana Bafana-afrigter te word.
Kirsten Nematandani, president van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa), het gister gesê topvlak-ervaring sal “een van die bepalende faktore” wees wanneer die land se sokkerbase binnekort oor Carlos Alberto Parreira se opvolger besluit.
Nematandani het ook ontken dat die nuwe Bafana-breier reeds aangestel is.
“Daar is nog geen besluit oor die opvolger geneem nie, aangesien Safa se uitvoerende komitee dit eers aan die einde van die Wêreldbeker-toernooi sal bespreek.”
Volgens hom is daar wel duidelikheid oor die vereistes waaraan die afrigter sal moet voldoen.
“Hy moes homself reeds op internasionale vlak bewys het en die enorme druk kan hanteer wat met sokker op die topvlak gepaardgaan.Hy moet boonop ’n uitstekende werksverhouding met die res van die land se klubafrigters hê.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Die Burger