Nuwe besem vee skoon – Pitso se Bafana skok Ghana
2010-08-12 07:51
Soweto - Suid-Afrika se geskiedkundige Wêreldbeker-sege oor Frankryk in WB 2010 was g’n gelukskoot nie en Bafana Bafana kan eersdaags weer met die grotes in Afrika saamgesels.
Dít het hy Woensdagaand in ’n snerpend koue FNB-stadion (Soccer City) duidelik gemaak deur Ghana, een van die reuse van Afrika-sokker en WB 2010 se lieflingspan, met 1-0 te verslaan.
Om te dink ’n skrale vyf maande gelede was dié span gelukkig om ’n gelykop-uitslag teen Namibië te behaal, maar as Pitso Mosimane se span só aanhou, is ’n plek in 2012 se Afrikanasiesbeker-toernooi (én dalk ’n eerste trofee sedert 1996) nie te vergesog nie.
Mosimane, wat verlede maand as Carlos Alberto Parreira se opvolger aangewys is, het eindelik uit dié ikoniese Brasiliaan se skadu beweeg – sy span was van die begin af aan takties doelgerig, vlymskerp op die aanval en op die verdediging meesal haas ondeurdringbaar.
Katlego Mphela se doel in die 42ste minuut (danksy ’n eksieperfeksie-deuraangee deur Steven Pienaar) was weliswaar die beslissende oomblik, tog het die tuisspan selde gelyk na een wat 43 ranglysplekke swakker as die Black Stars geag word.
Trouens, hy kon minstens nóg twee keer verby die Ghanese doelwagter, Richard Kingson, gekom het, was dit nie vir puik keerwerk in die laaste vesting nie.
Mphela se aanvoeling en ondersteunende spel was strate beter as in WB 2010 en hy lyk, ná anderhalfjaar vol belofte, eindelik na ’n doelskieter van wêreldgehalte.
Terselfdertyd het Pienaar, wat nie sy reputasie in WB 2010 gestand gedoen het nie, die hoogaangeskrewe Ghanese middelveld na willekeur oopgekloof en was sy tussenspel met Siphiwe Tshabalala en Bernard Parker ’n lus vir die oog.
Foutloos was dit nie – Morgan Gould het ’n keer of wat onnodig druk geplaas op Itumeleng Khune in die Bafana-doelhok, Tsepo Masilela het ’n verspot maklike kopskoot verbrou en die dwarsaangeë het soms gelol.
Daar wag nog ’n lang, steil pad op Mosimane, maar vir 90 minute was sy beloftes van ’n “nuwe, opwindende” Bafana waterdig en hy het geslaag waar soveel van sy voorgangers gestruikel het.
- Sport24
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg