Nóg ’n driekuns vir Rooney
2011-09-12 08:36
Bolton. – Manchester United se doelskieter Javier Hernandez erken Wayne Rooney se voortreflike spelpeil is die sleutel tot sy span se goeie begin in ’n Premiersokkerliga waarin die rekords tuimel.
Rooney was Saterdag in die sege met 5-0 teen Bolton die eerste speler van United wat agtereenvolgens ’n driekuns aan doele kon behaal sedert Alex Dawson dit in 1960 reggekry het.
Dit was Rooney se sewende driekuns vir United – net soveel soos die legendariese Bobby Charlton in sy speeldae aangeteken het. Rooney het tot dusver reeds agt doele in die Premierliga behaal – drie meer as sy hele totaal in die vorige termyn.
Hernandez het in sy eerste wedstryd in die beginspan die ander twee doele teen Bolton aangeteken.
United het 18 doele in sy eerste vier wedstryde aangeteken. Hy speel Sondag teen Chelsea, wat Sunderland eergister met 2-1 geklop het.
Sergio Aguero het ook ’n driekuns aan doele in Manchester City se sege van 3-0 oor Wigan behaal, wat ’n goeie opwarming vir sy komende buiging in die Kampioeneliga was.
Die Argentyn het reeds ses doele in die City se eerste vier ligawedstryde aangeteken.
Liverpool kon nie die spook afskud wat in die Britannia-stadion loop nie en het sy eerste nederlaag van die seisoen teen Stoke gely.
Jamie Carragher het Jon Walters in die 20ste minuut in die gevaarsone platgetrek en Walters het geen fout met die strafskop begaan nie vir die enigste doel in die wedstryd.
Dit was Stoke se vierde agtereenvolgende sege tuis teen Liverpool.
Die Gunners glimlag ook weer skalks. Andrey Arshavin het ’n fout van Swansea se doelwagter Michael Vorm uitgebuit en Arsenal op die wenpad geplaas ná die vernederende nederlaag van 2-8 teen United.
Vorm het die bal teen die bene van sy spanmaat Angel Rangel vasgerol en die Rus was byderhand om dit met ’n oop doelhok voor hom te bêre. Dit was Arsenal se eerste sege, terwyl Swansea nog nie een doel in sy eerste vier wedstryde kon aanteken nie.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
– Sport24