Nditi se doel red Bafana van rooi gesigte
2011-05-16 09:19
Bloemfontein - Sy span se Serengeti-ekspedisie wys daar is diepte, sê Pitso Mosimane, breier van die Suid-Afrikaanse sokkerspan.
Maar Bafana Bafana het in hul afspraak met Tanzanië Saterdag in Dar es Salaam so byna die gelag betaal vir die daaglikse rompslomp wat hierdie vriendskaplike wedstryd voorafgegaan het.
Die doel net voor einde van die eerste helfte het die Suid-Afrikaners van ’n verleentheid gered teen die uitgedunde tuisspan, wat 112de op die wêreldranglys is.
Die raap en skraap-span van Suid-Afrika het met 1-0 gewen.
Dit was Bafana se vyfde sege in sewe wedstryde.
Die bal het reg teen die einde uit die hande van Wayne Sandilands gespat en Shaban Nditi was by om die doel aan te teken.
Die gelykmaker was die Taifa Stars vanweë onkantspel nie beskore nie.
Sandilands is ingespan omdat Kaizer Chiefs die gereelde doelwagter van Bafana, Itumeleng Khune, onttrek het.
Sandilands, ’n doelwagter van Mamelodi Sundowns, was een van vyf nuwelinge wat in die eerste helfte gespeel het.
In die tweede helfte het nog ses spelers hul Bafana-buiging gemaak.
“Dit was nie ’n maklike wedstryd nie, veral in die tweede helfte.
“Ondanks die feit dat hulle ook met plaaslike spelers oor die weg moes kom, het hulle steeds ’n goeie span gehad,” het die Bafana-afrigter, Pitso Mosimane, gesê.
“Bykans die helfte van my beginspan was nuwelinge. Ek dink hulle het hul deel bygedra.
Ek is bly ek het ’n geleentheid gehad om hulle in aksie te sien. Ek is tevrede met wat ek gesien het. Dit toon daar is voldoende diepte.”
’n Geleentheid of wat is in die eerste helfte deur die besoekers verbrou, waarna Siyabonga Sangweni net voor rustyd die enigste doel in die wedstryd aangeteken het.
Dié verdediger was in die 43ste minuut byderhand toe die bal met Suid-Afrikaanse se derde hoekskop bo-oor almal voor hom te lande gekom het.
Die tuisspan het veral teen die einde van die tweede helfte spel gedikteer en verbete aangeval.
Suid-Afrika was gelukkig om dié aanslag te kon afweer.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24