Mbalula bekommerd oor 2010-stadions
2012-05-28 19:01
Pretoria – Heelwat van die stadions wat gebou is of opgegradeer is vir die 2010 Fifa-wêreldbeker loop die gevaar om wit olifante te word, het die minister van sport, Fikile Mbalula, Maandag gesê.
“Sommige van hierdie stadions word nie net onderbenut nie, maar loop ook die langtermyn-gevaar om wit olifante te word,” het hy in Pretoria gesê.
“Gemeenskappe sê hulle het nie fasiliteite nie en dan gaan ons en vind fasiliteite wat nie gebruik word nie of gevandaliseer is.”
Mbalula het verslaggewers toegespreek nadat hy gepraat het by ‘n munisipale konferensie oor sport en ontspanning.
Hy het gesê in sommige gevalle bestaan fasiliteite wel, maar dit is te duur vir gemeenskappe om toegang daartoe te hê.
“Stadions in Dobsonville is opgegradeer as oefenfasiliteite in 2010, maar gemeenskappe en klubs kan nie bekostig om hulle te gebruik nie,” het die minister gesê.
“Ons lewer lippediens oor hierdie dinge, maar pleks daarvan om te kla kan ons gaan sit en hierdie kwessies oplos met plaaslike regering en ‘n geïntegreerde benadering.”
Mbalula het gesê hy wil hê skole moet toegang tot fasiliteite hê, maar die koste is belemmerend.
“Soms moet hulle toeganklik wees vir skole en gemeenskappe, so ons moet werk met die plaaslike regering,” het hy gesê.
“Ek is heeltemal bewus daarvan dat niks verniet is nie, maar die fooie wat gevra word om hierdie fasiliteite te gebruik is buitensporig.
“Moet my nie verkeerd verstaan nie, spanne van die Premier Sokkerliga moet fasiliteite huur. Hulle het geld en hulle het borge, maar selfs hulle betaal buitensporige fooie.
“Hulle moet betaal, maar daar moet oor die pryse onderhandel word met die munisipaliteite en daar moet redelike pryse wees.”
- Volg Nuus24Sport op Twitter
- SAPA