Maradona moet groet
2010-07-28 03:00
Buenos Aires – Die Argentynse Sokkervereniging (AFA) het Dinsdag besluit om nie Diego Maradona se kontrak as die nasionale sokker-afrigter te hernu nie, het AFA se woordvoerder Ernesto Cherquis Blalo, gesê.
Daar was twyfel rondom die 49-jarige se toekoms ná n vergadering Maandag met Julio Grondona, die AFA se president.
Die media het Dinsdag gespekuleer oor wie die ster-speler, wat die span in 1986 se Wêreld-beker-sokkertoernooi na oorwinning gelei het, sal vervang.
“Die uitvoerende komitee het almal ooreengekom dat hulle nie Maradona se kontrak as tegniese direkteur van die nasionale spanne sal hernu nie,” het Cherquis gesê.
Maradona het nie baie ondervinding as afrigter nie en sy rekord oor die afgelope 18 maande was maar bra power. Die span het maar net-net vir die Wêreldbeker-finaal gekwalifiseer.
“Dit is amptelik, Maradona is nie meer die afrigter van die Argentynse span nie,” het die Nacion koerant op hul webwerf gesê.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sapa - AFP